Musiekspel: In Die Land Van Die Blindes ~ Inleiding
"In Die Land Van Die Blindes" is ‘n vollengte musiek- spel in Afrikaans. Die verhaal is ‘n vrye verwerking van die klassieke kortverhaal deur H.G. Wells, ‘n satire ryk aan dramatiese moontlikhede en betekenisvolle inhoud. Daar is humor en patos, asook die uitdaging wat die vertolking van die karakters vir verhoogkunstenaars bied.
Kortliks: dit gaan oor Nuñez, ‘n berggids uit Peru, wat tydens ‘n storm in die onverbiddellike Andes-gebergtes van sy klimgroep wegdwaal. Hy bevind hom in die legendariese land van die Blindes waar die inwoners deur die eeue heen weens ‘n seldsame siekte blind geword het. Hier, meen hy, sal ek koning word, maar hy word egter gou ontnugter. Intussen raak hy op die jong vrou Medina verlief. Dit ontlok kritiek van die inwoners en plaas hom in ‘n ongelooflike dilemma.
Die temas in die stuk kan omskryf word as: Enkeling teenoor die Samelewing; selfvoldaanheid en nederigheid; die ontoereikendheid van die wetenskap; xenofobie; tradisie en vernuwing; waardering vir die skepping.
Die musiek sluit ‘n tango in, ‘n hooftema met ‘n "beat", liefdes- en spotliede, asook ‘n ritmiese spraakkoor. Daar is geleentheid vir spelers om hul kreatiwiteit uit te leef d.m.v. ‘n toneel met slaginstrumente, beweging en choreografie, kostumering en grimering.
Die oorspronklike musiek en lirieke is geskryf deur Willem van der Walt wat ook vir die Afrikaanse bewerking vir die verhoog verantwoordelik was. Die musiek is genoteer en verwerk deur Allan Stephen-son, wat ook die tekstuurmusiek verskaf het.
- Willem van der Walt is ‘n drama- en taalonderwyser aan ‘n Kaapstadse hoërskool en doseer ook aan die Tygerberg-kampus, Northlink College. Hy is ‘n geruime tyd reeds betrokke met jeugteater in skole en het ook op die professionele verhoog opgetree. Sy ander skryfwerk sluit in kortverhale, radiodramas en drie jeugromans. Hy het in 2004 twee nasionale pryse vir Ragtime en Rocks verower. Sy musiekspele Kaapse Blues en Jonah is onderskeidelik in 2003 en 2005 deur die Northlink se drama-studente op die Grahamstad Nasionale Kunstefees opgevoer.
- Allan Stephenson is een van Suid-Afrika se bekendste komponiste en dirigente. Hy het jare lank as lid van Kruik- en die Kaapse Simfonie-orkeste opgetree. Sy werke word ook in Britanje, Europa en Amerika opgevoer.

|