Musiekspel: In Die Land Van Die Blindes ~ Vrae en Antwoorde
- Hoeveel spelers word benodig?
Dit sal altyd by die regisseur berus. Daar is 23 rolle met dialoog, sommiges met meer as ander. Van die spelers kan meer as een rol vertolk, bv. van die Vertellers en Campesinos kan later die rol van Blindes vertolk. ‘n Regisseur kan selfs ekstra spelers sonder dialoog insluit.
- Hoeveel hoofrolle is daar?
Die hoofrol is dié van Nuñez. Hy doen twee solo- liedjies en ‘n duet met Medina. Ander rolle van belang is die van die Blinde leiers (nrs. 4 en 5) met heelwat dialoog; Medina se ouers wat ‘n duet sing en Medina wat self ‘n solo en die duet met Nuñez sing.
- Is die musiekspel ‘n komedie of tragedie?
Die toonaard is komedie sowel as patos. Afhangende van hoe ‘n mens dit vertolk, is daar aan die einde ‘n element van hoop.
- Is die spel satiries?
Ja. Dit gaan glad nie oor ware blindes nie. Dit handel eerder, op ‘n dieper vlak, oor dié wat nie wíl sien nie.
- Is die musiekspel soos ‘n opera, met deurlopende musiek?
Nee. Dis ‘n drama met musiek. Daar is (bv) tonele met dialoog wat eindig met ‘n lied as hoogtepunt.
- Watter musieksoorte word gebruik?
Die stuk bevat verskillende soorte musiek. Daar is dramatiese begeleiding, ‘n tango, spotliedjies, liriese liefdesballades en ‘n hooftema met ‘n “beat”. Daar kan ook van slaginstrumente en ritmiese spraakkoor gebruik gemaak word.
- Op watter vlak is die musiek genoteer?
Die musiek benodig ‘n professionele pianis.
- Is daar geleentheid vir dans en beweging?
Ja. Die tango kan gechoreografeer word. Daar is tonele met spotmimiek, asook dramatiese bewegings-tonele bv. wanneer Nuñez van die Blindes vlug. Die toneel waar slaginstrumente gebruik word, bied ook bewegingsmoontlikhede.
- Wat van die kostuums?
Met die inleiding kan die Vertellers bv. swart dra. Die die kostuums van die Campesinos (Suid-Amerikaanse werkersklas) kan ‘n strooihoed, kuitbroek, onder-baadjie, wye romp, kopdoek, tjalie dra en kaalvoet optree. Nuñez is byderwets: jeans; T-hemp en seilskoene. Die Blindes dra netjiese klere uit goiingsak (of iets soortgelyks) sodat hulle skaflik, dog eenders lyk.
- Moet daar décor wees?
Dit is ‘n stylbesluit wat die regisseur moet neem. Daar kan bv. bloot ‘n buitelyn van die Andes-gebergtes op die agterste muur van die verhoog uitgebeeld word. Die res kan met beligting geskep word.
- Moet die Blindes rondtas soos mense in die donker?
Glad nie. Die Blindes was volmaak by hul gebrek aangepas. Hulle beweeg op hul gemak rond. Hulle sal egter moet leer om "dwarsdeur" en nie direk te fokus nie. Dit is net Nuñez wat aan die einde effens rondtas.
- Hoe lank is dit nodig om te repeteer?
Dit is moeilik om te skat. Afhangende van hoeveel hulp en samewerking ‘n regisseur het, kan die stuk binne agt tot nege weke, met twee tot drie volledige repetisies per week, op die planke gebring word. Hoofspelers sal meer tyd moet afstaan.
- Koste
Die koste vir opvoerregte is R3 000. Daarby word 5% van die loketopbrengs bygereken. Vir verdere inligting kontak ons |